23) Die hele dorp eet

JAMMU & KASJMIR – Kasjmir se siel het baie laaie. Soms maak jy ‘n laai oop en sien verligte mans en vrouens (selfs sonder hoofbedekkings), gebalanseerde mense met wie jy gesprekke oor als en wat kan hê – politiek, geskiedenis, gender en godsdiens. Of bloot vriendelike inwoners wat fantastiese, eerlike diens lewer, met groot glimlagte en sjarmante maniere.

Ander kere maak jy ‘n laai oop en sien die verkrampte kant, soos die boekverkoper wat die skrywer Salman Rushdie (self ‘n kind van Kasjmir) totaal verag oor sy “snert” in ‘The Satanic Verses’. Het jy dit ooit gelees, vra ek. Nee, antwoord hy. En dit maak nie saak nie. Hy’s nie welkom hier, of in Indië, nie. “Hy sal nie lewendig wegkom nie.” ‘n Paar mense hier roem hulle daarop dat hulle die “laaste verdedigers van die ware Islam” is. Tog verkoop einste man Rushdie se ‘Midnight’s Children’, ‘n klassieke boek oor die land waarvan die eerste paar liriese bladsye afspeel in Srinagar, en Kasjmir die spilpunt van Indië en Pakistan se onafhanklikheid is.

Hier’s ou oopkop here, wat van whiskey hou en in vlot Engels vertel hoe hulle dekades gelede die eerste toeriste deur die berge na Ladakh en ander dele van die staat gelei het – voordat die oorloë begin het. Ongelooflike verhale oor ‘n tyd toe daar omtrent g’n infrastruktuur was, en hulle saam met ‘n paar hippie reisigers die toerisme paaie oopgekap het. Een oupa vertel hoe hy per voertuig na ‘n plek gereis het. “Dit was die eerste motor wat die mense daar nog ooit gesien het, en toe probeer hulle dit voer met gras. Hulle’t gedink dis ‘n dier!”

Maar hier’s ook die rommelstrooiers, die vroue-onderdrukkers en diere-mishandelaars. Derduisende weermag-jeeps ry rond, met kantgordyne versier. Helaas is baie van die vrouens se burkas ook met kantgordyne versier, wat beteken dat jy nie eens hul versierde oë kan sien nie. Ons reis na Pahalgam in die berge, en ontmoet ‘n landbou-amptenaar wat bevestig dat Jammu-Kasjmir tweederdes van sy landbougrond die afgelope dekades verloor het weens onwettige bouprojekte en ontwikkelings. Van die mooiste, vrugbaarste grond is daarmee heen en, gekoppel met oorbeweiding, erosie en die besoedeling van water en grond, lui die alarmklokkies al hard. As iemand net wil luister.

Pahalgam is besig, want die dorp is nóg ‘n groot wegspringplek vir die Hindoe Yatra-pelgrims wat na Siva se ys-penis gaan kyk (sien Kaalvoet-blog21).  Om die dorp binne te kom moet ons en ons bagasie deur skandeerders en pelotonne polisie en soldate. Weer hoor ons van die Kasjmirs hoe hulle die pelgrims verpes en oortuig is dat die hele ding ‘n komplot is om jaarliks hul land binne te val en hul godsdiens te ondermyn. Veral omdat derduisende Indiese soldate hier op ‘n sending is – om te verseker dat geen Moslem-ekstremis ‘n Hindoe skade aanrig nie.

Dus ons vlug verder die berge in, na Aru, wat in ‘n natuurreservaat is. Die dorpie is pragtig, die omgewing supermooi – riviere, berge, voëls, sneeu en bome. Die enigste vals klank is die”hotel” van Jammu-Kasjmir se toerisme-agentskap. Vervalle, vuil, riool wat oorloop en depressief. Ons loer toevallig in, net toe ‘n paar Indiese toeriste opdaag. Hulle merk nie eers op hoe ‘n gemors dit als is nie, maar begin al buite roep of daar ‘n restaurant is. Daar is, maar die eetsaal word nie meer gebruik nie – dus mense moet buite op plastiekstoele eet.

 ‘n Dag ter perd neem ons dieper die woudbedekte berge in, waar nomade (sigeuners, noem die mense hulle hier) huise in die hange uitkerf, met dakke van gras waarop die kinders speel en hul vee wei. Winters verlaat die nomade die berge, en bly laer af. In 1995 is ‘n paar Europese bergwandelaars nie ver hiervandaan nie deur guerrillas ontvoer. Een is onthoof en die ander is nooit weer gesien nie. Tog verstaan jy waarom die toeriste terugkeer. Dis net té mooi vir woorde.

Maar die toneel wat die grootste indruk op ons maak, is een aand in Aru. Ons gashere staan met ‘n bottel koeldrank op die gras. Hulle wag en wag, die ongeduld brand. Die son sak, en vanaf die moskee kom eindelik die wekroep aan die einde van Ramadaan se eerste dag: die vas is verby. Hulle sluk die koeldrank en ons besef skielik – daar’s niemand in die strate, daar’s g’n geluid, nie kinders, nie hoeters, nie motors, nie radio’s, selfs nie die diere nie. Absoluut niks, net ‘n koel kalmte wat als omvou.

Want die hele dorp eet. ©sybrandus.adema@gmail.com

Advertisements