4) Rewolusie op ‘n vol(maan) maag

GOA – Dit was onafwendbaar: as  jy lyk soos ‘n dissipel, sal die ghoeroe jou vind.

En vind, dit doen hulle. Al is ons al deur verskeie leermeester-s en –esse genader, kon ons nog altyd esse om hul gooi. Maar Thomas die Duitse DoctorFood was té slinks vir ons. Soos meeste dinge, begin dit só onskuldig: ons ry op ons scooter, stop by ‘n plek en vra iemand om ‘n foto te neem. Hy neem, ons bedank, ons paaie skei. Maar ‘n dag later vertel die ‘lag-joga-ghoeroe’ vir ons van ‘n eksentrieke Duitser – die einste, besef ons – wat beweer hy’s ‘n afstammeling van Duitse adel, die Duitse regering probeer hom ondermyn “omdat hy sensitiewe inligting het”, en hy gaan ‘n volmaan-jol aanbied. Geskiedenis, sameswerings en partytjie – dis als te goed om waar te wees, en die man het mos ‘n foto van ons geneem.

Die konsep is eenvoudig: volmaanaand is daar ‘n vegaanse kersligete op die strand voor sy kampeerplek. ‘n Paar disse (op piesangblare – als biodegradeerbaar), kokosneutsap, chai, musiek en voorligting oor die “lovely revolution” wat in Rusland en Duitslandaan die gang is. Jy weet nie daarvan nie? Lees verder.

Iedergeval, 300 roepees (dis aan duur kant) later, daag ons op – vol geloof, hoop en honger. Amit, ons Indiese vriend en bestuurder van ons blyplek, is verlig om ons te sien, want Thomas het hom opdrag gegee om seker te maak almal betaal. G’n deposito’s is geneem, g’n idee hoeveel mense gaan opdaag nie. Ek, terstond DoctorFood South Africa, en ene Sven, nou DoctorFood Sweden, word gevraom gebruikte amasi-kleipotjies in die see tegaan was, en sommer te begin planne smee vir ons onderskeie rewolusies. (Hiermee is jy nou formeel gewaarsku.) Sven is reeds in ‘n sinici, onbuigsame bui, want hy het ‘n lang nag onder die lede, maar is vroeg wakker gemaak om agterop Thomas  se motorfiets rond te rits en tonne vrugte te gaan koop. Terry word na die kombuis gestuur (dis nie ‘n verligte rewolusie hierdie nie) waar sy en die Suid-Koreaan, Luna (‘n naam vir so ‘n aand!), moet vrugte sny dat die byle huil.

Mense daag op, party hardloop dadelik weg, maar die meeste hang aan om te sien wat gaan gebeur (TV is nie groot nie). Thomas subkontrakteer alle verantwoordelikhede na die Suid-Afrikaners, die Suid-Koreaan, die Sweed en die Indiër – sy kop is in die wolke, hy moet sy boodskap versprei. Die son sak, die maan kom agter die palmbome op (ís baie mooi), daar’s ‘n tekort aan beligting in die kombuis, en ‘n oormaat woorde wat uit sy mond vloei soos hy die gaste vergas. Party vrouens het nie betaal nie (mompel Amit wat g’n pligversaker is), maar het jy gesien hoe mooi hulle is (antwoord Thomas). Soos ek gesê het, nie ‘n verligte rewolusie nie.

In’t kort (wel, dit was lank), verduidelik Thomas dat alle mans konings is, en alle vrouens godinne. Iets het verkeerd gegaan, maar ons kan als regmaak deur elke man een hektaar grond te gee wat hy intensief moet bearbei met organiese kos. Reeds is daar etlike sulke gemeenskappe in Rusland en Duitsland. Ook is daar ‘n sekere boom wat sodra dit 500 jaar oud word, begin vibreer (byna ‘n tipe OM-oerkreet) en daardeur mense versoek om hom af te kap, want hy wil nie langer leef nie. Dan moet ons almal stukkies van die hout neem (Thomas het drie om sy nek) en daaraan vashou as ons vibrasie-hulp benodig. Al hierdie ontwaking is moontlik danksy ‘n godin, “the lovely Anastasia” van Siberië – deels vrou, deels tier.

Jammer as dit stukkend klink, maar ek’t tussenin kontak behou met die kombuis, waar ‘n vegetariër en pescetariër vegaanse dade aan’t pleeg was. En probeerom die kerse aan die brand tehou. Ek vra ‘n bloedjong Ier – hy’t onbewustelik by die verkeerde volmaan-jol opgedaag – wat als gesê is: “Man, a whole lot of #@%$ was spoken.” Maar hy ontmoet weer ‘n Indiese man – wat hom weke gelede na die se familie geneem het – voordat hy die hasepad kies.

Nou gryp Sven DoctorFood Sweden in, kry Thomas stil, en die slaai-voorgereg word bedien. Dis stukke wortel en blare (volgens ‘n sardoniese Luna “net bestanddele, nie ‘n gereg nie”), toegedraai in ‘n piesangblaar. ‘n Brit en ‘n Duitser smokkel hul kos na die see, waar hulle dit na die visse werp. “Ons kon nie sien wat dit was nie,” verduidelik hulle later. “En ná als wat Thomas gesê het, was ons bang dis behandel met ‘n towermiddel wat ons aan die slaap sal sus voordat ons na ‘n Pol Potse plaasparadys ontvoer word.” Nog ‘n gepraat en gesing – Thomas streel sy ghoeroe-ghitaar – volg… terwyl ‘n louwarm kombuis-rewolusie aan’t broei is. Die slawe (g’n konings of goddinne hier te bespeur nie), aangevuur deur die ‘lag-joga-ghoeroe’ wat kwaad stook, voel die volgende gereg moet die vrugte wees, maar Thomas dring aan op die vegaanse koeke. Hy wen, soortvan, maar party mense gryp nou koek én vrugte, en ons doen net wat ons wil. Om te dink die plan was dat almal kaartjies kry, waarvan die hoeke afgeknip word soos jy ‘n gereg verorber…

Die monoloog gaan aan, almal moet die ‘Ocean Song’ sing, en die laaste rewolusionêre eeenheid begin finaal uitrafel. Sven verkas om iewers drankies te gaan drink. En ‘n kind – ‘n kind! – opper die Keiser-is-Kaalgat-waarheid deur te vra: “So, wanneer kom die regte kos?” Haar pa, tot sy sinne geruk, ontvoer hulle dadelik na die naaste restaurant – hy het glo ‘n homp vleis met sy mes-swaard aangeval – en keer ‘n uur later terug met bottels wyn. ‘n Groep joga-studente sluit aan, betaal niks, eet hulle trommeldik aan die tonne opgesnyde oorskietvrugte en sjokolade, terwyl hulle hul spesiale joga-twak rook. Terry, uiteindelik bevry uit die kombuis, praat met een van hulle (‘n jeugdige nihilis) wat op ‘n normale opmerking van haar (“dinge gebeur”) as volg reageer: “Moenie my probeer leer nie.” En dis opmerklik hoe gevoelig party spirituele-soekers is. “Moenie hom veroordeel nie,” sal iemand byvoorbeeld blaf as jy vriendelik versoek dat ‘n derde persoon ophou om sy rook in jou aandete te blaas in die restaurant.

Terug na Thomas: ons keer die volgende middag terug (ons hoop daar’s nog koek), net om te sien dat sy tent en die vlae en alles weg is. Het hy sy geld gemaak en gevlug? Nee, hy slaap nou in die hut wat onlangs deur reisende Argentyne (sien blog 2) gebou en gisteraand as kombuis benut is. Tussen die trosse piesangs en waatlemoene en pynappels, lê die man in ‘n dhoti – tradisionele Indiese mansdrag wat soms lyk asof jy ‘n groot babadoek onderaan het. Ons mag nie steur nie, dus stert-tussen-die-bene verlaat die dissipels die slapende ghoeroe – ons geloof finaal in stukke. “Hoekom het ons nie minstens ‘n paar kokosneute gevat nie?!” vra ons later, toe die skok verby is.

Maar ag, die son skyn, Agonda lyk pragtig en die lewe gaan aan.

Al besef ek jy wil dalk nie geleer word nie. ©sybrandus.adema@gmail.com

NS: Tussen al die waangedagtes (ek het nog nie eers uitgebrei oor Thomas en die ander planete nie), is daar wel goeie gedagtes. Hy word aangevuur deur die feit dat meer as ‘n kwart miljoen (jy’t reg gelees, 250 000) Indiese kleinboere die afgelope 16 jaar selfmoord gepleeg het – glo die grootste massa-selfmoord in die planeet se geskiedenis. En dit gaan aan, want die grond en water raak op, bruidskatte bly dieselfde, die boere word verplig om geneties aangepaste saad te koop (waarvoor hulle baie geld moet leen) en die algemene korrupsie beteken hulle kan op niemand staatmaak vir hulp nie. So, Thomas versprei organiese saad, en saai die idees van volhoubare grondbenutting waarop gesinne kan leef. Sien http://ipeace.us/profile/DoctorFoodsThomasPatock en http://doctorfood.npage.de/

NNS: Om op te maak vir die trauma, het Amit ons en twee Israeli’s na transfeeste by Anjuna, in die noorde van Goa, geneem. Maar dis ‘n ander verhaal… sien hieronder vir vae idee.

Advertisements